21/08/2015

Nuwe lewe

Gister was so 'n lekker dag! Louwarm. Die ergste koue van die winter het die wyk geneem en die dae begin heerlik raak. Al dra mens nog 'n mou. Al knyp 'n koeligheidjie om jou enkels teen skemer. Die eerste tekens van lente is hier en dis net wonderlik!

 
Aalwyne blom en lok suikerbekkies. Lieflik om te sien hoe hulle en die bye aan die oranje blommetjies "hang".


Agter in die hoek van ons erf begin die moerbeiboom sy vars, splinternuwe liggroen blaartjies uitstoot. 'n Wonderwerk, jaar nà jaar. Verseker.


Camelia japonica in die voortuin, vanjaar 'n lus vir die oog. Gesonde blomme en blare.


Ponytail, net gister uitgeplant in die grond. Sê tog dit lyk mooi? Wat is lekkerder as tuinmaak?
Nuutmaak, mooi maak.
 
 Dit lyk nog kaal daar buite, maar een van die dae sal groen blare weer oral te siene wees.

 
 Die geelvinke het alreeds begin nesbou. Grasgroen hang dié nessie aan die dunste takkie van die groot kareeboom.
 
 
"Sticks of fire" in die laatmiddagson. Dié somer gaan jy sterk word en seker baie groter groei!


Die grasperk is nog vaal, maar die camellia se donkerpienk blomme maak al klaar ons harte bly.
 
En kyk hoe mooi is die jasmyn, so fyn en vrolik. Ruik jy dit?
Mag dié nuwe seisoen vir jou wat hier lees, net mooi dinge inhou. Maak tyd vir stilstaan en buite toe gaan.
Maak tyd om te bewonder en verwonderd te wees.

24/07/2015

Brakkies, ons hondekind.

Niemand op hierdie aardbol lyk so beteuterd soos  Brakkies as ek gou iewers heen moet ry nie. Hy staan verlore op die plaveisel agter die hek, sy kort beentjies en bal-en-kloupootjies plat op die aarde. "Waar gaan jy nou weer heen?" vra die hele ou worshondlyfie. Dan vermurwe my hart stuk-stuk, knyp ek oë toe en trap die petrolpedaal diep in om die wegryery so gou moontlik agter die rug te kry.
Vir hom is dit die heel lekkerste as sy Ma by die huis is en hy op sy blou kombers sy eie hondedrome kan lê en droom, deeglik bewus van my nabyheid. Of saans as dit storietyd op T.V. is, langs my in te wriemel en heerlik warm onder die kniekombers aan die slaap te raak.


Hy het die kuns om in menseharte in te kruip, pens en pootjies bemeester. Soggens nà wakkerwordtyd, groet hy ons stertswaaiend, ogies blink en die ene opgewondenheid oor ‘n nuwe dag wat voorlê.
Op Maandae en Donderdae as Jacob in die tuin kom werk, loop sy beker behoorlik oor. Sodra hy die tuinhekkie hoor, hol hy in eerste rat by die agterdeur uit, jubelende blaffies so ver as hy gaan. Dan vryf ou Jacob hom en sê: “Jaaaa Brakkies, jy het mooi gably?” Met wikkelboudjies en blink oë antwoord hy Jacob se vraag.
Getrou volg hy my deur die dag.  Soos Rut-van-die Bybel.  “Waar u gaan, sal ek gaan.” Vroetel ek iewers in die tuin, jag hy veldmuise of lê en bak in die winterson op die grasperk. Maak ek kos, speel hy binne hoorafstand, buite by die agterdeur, met Hagar, sy ou groot Labradormaat. Sit ek by die rekenaar, krul hy homself op op sy kussing en kruip hy onder sy blou kombers in, ‘n prentjie van geluksaligheid.






Brakkies is nou twee en ‘n halwe jaar deel van ons lewens. Ons kan ons nie ‘n dag sonder hom indink nie.