27/02/2015

Skilder en skilder en skilder

Ek het lanklaas soveel ure geskilder aan een skildery. Dit was 'n bestelling en ek was vas van plan om my uiterste bes te doen. En dit te geniet!
Die doek redelik groot: 102 x 51 cm. My verf slaggereed in die groot plastiek houer, kleure om van te kies en keur. Nou moes ek net begin. Dit was laas Maandag, die 16e Februarie 2015. Ek het elke kans wat ek kry gebruik om te skilder. Soms sommer vir ure aanmekaar. Ander kere korter. So het dit aan die begin gelyk:


Kalerig, berge in die agtergrond nog nie ver genoeg nie en die bekslaanhek was nog 'n yslike uitdaging wat voorgelê het!
Na 'n dag of wat lyk dit toe so;


Meer kosmosblommetjies het bygekom asook van die bloekomboom se "skille" en 'n paar verdwaalde klippe.


Vroeg een oggend saam met my eerste koppie koffie, skilder ek die slap hek wat sommerso kan-nie-gepla-wees in die pad bly lê. Ek verander ook later in die dag die agtergrond sodat daar meer diepte is. Wil mos hê die kyker moet heerlik kan rondtoer in dié landskap. 


Heel laaste plak ek sommer lekker tekstuur op die pale, die kosmos en die boom se stam met die paletmes. (Mens kan dit nie mooi sien op die foto nie, maar glo my, dit is daar) 
Uiteindelik is ek tevrede. Wat 'n heerlike voorreg om te weet dat ek my Godgegewe talent kan gebruik in hierdie dae. O ja, so tussen die verwery deur, het die muse my ook (gelukkig) besoek en kon ek dié woorde geskryf kry:
‘n Dwarshou

Op ‘n  plaaspad ver van hier
lê ‘n bekslaanhek,
sy snare pap soos dié
 van ‘n weggooiviool -
dwarssparre en draad
onseker aanmekaargeflans
sy glans vergete,
verbete klou hy vas
sedert toentertyd tot nou
aan die hekpaal,
gedoringdraad en styfgespan
terwyl pienk en wit kosmos
oraloor
uitbundig blom
Elizabeth Kendall ©

(Ns. As jy my goed ken, sal jy die simboliek hierin kan raaklees.) 

12/02/2015

Ons ou huis

 
Die huis waarin ons woon is oud. My Pa het die huis by sy niggie gekoop toe ek in St. 4 was. Dit was ses-en-vyftig jaar gelede. Ek dink hy het een duisend pond daarvoor betaal, wat toe baie geld was.

Ons het al sedertdien so baie dinge in en om die huis verander. Een van die grootste en beste veranderinge was om al die matte uit te haal, die plankvloere te skuur en te behandel. Dit gee karakter en dit lyk baie mooi, ook baie makliker om skoon te hou.

Die tuin het oor die jare ook baie verander. Die bome het yslik groot geword. Een ding wat dieselfde gebly het, was die sementpaadjie reg voor een van die voorste kamers. Toe ek anderdag daar staan, gaan my oë skielik wawyd oop! Dié paadjie lyk droewig om die minste te sê.

Toe Jacob vanoggend inklok, kom my plan in werking. Ons "steel" oral in die tuin plaveistene en klippe en pak dit bo-op die oeroue sement. Plek-plek los ons dit oop, sodat ons nooit sal vergeet waar alles vandaan kom en begin het nie. 


Nou lyk dit sommer heel anders, nuut en skoon. 'n Mens het nie altyd geld nodig om iets mooi te maak nie. Die heerlike gevoel van werksbevrediging kom lê in my binneste. Ou Jacob lyk ook heel in sy skik. Ten spyte van die hitte vandag, het ons twee iets reggekry. 

08/02/2015

Kosbare tye

Saamweestye met kleinkinders is kosbaar. Gister was so 'n dag. Ons oudste kleinkind het by ons gekuier terwyl Pa en Ma hul twaalfde huweliksherdenking gaan vier het. Boetie Josh het by 'n maat op 'n plaas gaan kuier, daar is mos baie meer lekker seunsdinge om te doen. 
Ek en Amy het die koelte van die grasdakrondawel opgesoek en heerlik gaan sit en teken en verf. So lekker rustig. Gesels-gesels. Sy het vir Ouma van haar skool vertel en dat sy nog nie heeltemal weet wat sy eendag wil doen nie. "Iets kreatiefs Ouma!" Ja, hoe dan anders? Kunstig en kreatief is mos deel van haar menswees. 
Nà 'n uur of twee wys sy trots haar pragtige pastel- en wateroplosbare potloodtekening. "O, dis mooi! " sê ek. "Gaan wys vir Oupa!" Oupa dink ook dis pragtig. 

Op die spensrak staan al baie meer as net "ten green bottles". Pruimedantsap wat Oupa drink vir gesondheidsredes en Ouma kry nie dié mooi, klein botteltjies weggegooi nie. "Ek wil nog iets daarmee doen, " sê ek vir Amy. "Kom ons hang dit aan die boom op!" Ons bind 'n toutjie om 'n paar van die bottels en hang dit so saam-saam op. Toe ek vanoggend my draai in die tuin loop, vang die mooi lig- en skadukleure in die bottels my oog. Verwonderd staan ek en dink hoe sulke klein dingetjies 'n mens kan vreugde gee. En ek weet, ek sal elke keer aan my liefste kleinkind dink as ek na my swaaiende, groen bottels kyk wat aan ons appelkoosboom hang.

Daar is so baie troos in 'n tuin, so baie vrede en omgee. My oggende in die tuin het lewensnoodsaaklik geword. Dis meer as net batterye-laaityd. Dis dinktyd. Dis bidtyd. Dis kosbaar.
Kyk hoe spat die saad soos geelvink sy ontbyt geniet !


 Wit Icebergrose blom in die son. 

 'n Pienke voltooi die prentjie. 
  
Uiteindelik blom die miniatuur "bottlebrush" wat ek een jaar by Maureen present gekry het.  So, so mooi! 

My groentetuin was toe nie so 'n reuse sukses soos ek gehoop het dit gaan wees nie, maar daar is darem heelwat tamaties op pad na die tafel. Iets het ek toe tog wel iewers reg gedoen.  

31/01/2015

Nog steeds vetplante

Hoe meer ek oor vetplante lees, hoe meer wil ek weet. Ek vergeet die name, baie lyk so eenders, mens raak skoon verward. Tog weet ek, ek sal tot in lengte van dae vreugde kan vind in die wonder van hierdie unieke plante. Doringbedekte bolle wat die mooiste blomme produseer, grysvaal blare wat kartel en vou om 'n allerlieflike vertoning te maak iewers in 'n vaal hoekie in jou tuin en altyd-tevrede. Altyd tevrede en altyd mooi, dit is kaktusse en vetplante se beste eienskap. Hoe baie kan mens nie net uit die natuur leer nie! 
Hier is die yslike "Eve's Needle" ('n deel daarvan) wat teen die paatjieheining in ons agterplaas groei. Lank, lank gelede was dit net 'n 2cm. lange stukkie kaktus. En al wat ek gedoen het, was om dit in die grond te druk. Wees maar versigtig as jy naby daardie lang dorings doenig raak. Ek het iewers gelees dat die plant pienk /rooi blomme produseer. Sal dit nie pragtig wees nie! 
  Yslike blare van  'n garingboom of -plant. 
Nêrens kan jy 'n mooier pienk blom as by hierdie doodgewone kaktus kry nie. Een hele dag lank! 
 En hierdie een noem ek sommer "Ouman se baard". Ouman het intussen ook 'n jong knapie langs hom bygekry. Dis nog 'n heerlikheid van vetplante, dit vermeerder so maklik en so gou. 

30/12/2014

Stapelia, die wonder daarvan

Die stapelia of aasblom is inheems aan Suid-Afrika. Ek is so gelukkig om een daarvan in my tuin te hê. Wat 'n interessante plant is dit nie! Vir 'n jaar lank groei dit rustig in die groot, wit pot naby ons hek. Verlede jaar maak dit een blom. My dierbare worshond, Brakkies, ruik die vrot-vleisreuk en verniel die mooie blom in die proses. Hoe sou hy dan nou ook weet?

Vanjaar produseer die plant meer as een blomkop. Ek het sewe getel vanoggend. Dit blom vir so twee dae, lok vlieë en verlep dan. Ek kon my verkyk aan die mooi voorkoms, die stervorm en die fyn haartjies al om die rand van die blare. Dit lyk byna soos iets wat onder die see moet groei. My hondjie het vanjaar nie daaraan geraak nie. Hy het intussen tuinmaniere geleer of miskien is dit omdat dit bewolk was en die reuk van die blom dalk nie so skerp was nie. Hier is meer inligting oor die Stapelia Grandiflora.


'n Volmaakte ligroos knop en twee kleineres wat ook nog gaan blom.



 Hier kom sit 'n brommer (blow fly in Engels) op die aasblom. 

Nouja, "algaande leert men". Is die fyn, dun en donkerpienk lyntjies op die blare nie ook vir jou pragtig nie? 

Dis amper 'n week later ( 3 Jan. 2015) en daar het nog vier knoppe aan die stapelia verskyn. Ek het daagliks gaan loer of dit al oop was. Vandag het twee oopgemaak en die brommers gons om hulle! Kan so 'n mooi blom so 'n nare reuk hê? 


 Hier begin die knop oopgaan...
 ...en hier is dit oop en lok die reuk brommers.


21/12/2014

Kleur in my lewe

Die aarde sing 'n loflied. Elke dag. Mens moet net luister. Ek het nie baie nodig om bly te word nie, veral nie as dit by die natuur kom nie. Nà al die heerlike reën die afgelope tyd, is die tuin 'n lushof. In die groentetuin begin die Afrikaners blom. Hoe het ons ousie op die plaas jare terug gesê: "hulle stink lekker!" Ons almal weet dit keer dat lastige insekte jou groenteplantjies verniel. Maar dis nis al nie. Dit maak die mooiste helderoranje en goudgeel gesig teen die muur in die hoek. Ek kan nie onthou wanneer laas ek afrikanertjies in die tuin gehad het nie. 


Die bye geniet dit net so baie, kyk hoe staan hul angels punt in die wind! Dis boontjies, pepadews en tamaties wat jy op die ander prentjies sien. Interessante inligting:

Afrikaner (Tegetes erecta – African Marigold)
  • Ook die “Stink” Afrikaner genoem.
  • Kenmerke – oranje en geel blomme.
  • Eenjarige plant.
  • Plant in Augustus in diep omgespit en bemeste beddings.
  • Hou goed nat.
  • Twee tipes – kleiner word tussen 20 cm en 30 cm groot, ander tot 60 cm.
  • Hoe meer jy blomme pluk, hoe meer blom die plant.
  • Kan in vol son geplant word.
  • Hou insekte soos vlieë weg.
  • Kan gedroog word en saam met potpourri gebruik word.
  • Wanneer hulle tyd verby is, kan hulle in die grond ingespit word om aalwurms af te weer.
  • Afrika inboorlinge glo dit kan puisies genees as die blomme fyn gedruk word. (Bron: KRUIE )


  •  "Penny Royal", 'n klein soort mentkrui,  groei ook tussen die ertjies en ander groente. Dit versprei die heerlikste reuk as jy kaalvoet daaroor loop en hou ook glo vlooie van honde af. 
    Basiliekruid hou ook goggas en ander insekte weg. Ek dink my kruie groei beter as my groente! Basiliekruid is eenjarig. Dit beteken jy sal gereeld nuwe saad moet saai om altyd 'n goeie voorraad vir die kombuis te hê. Saai dit enige tyd van Oktober tot in die laat somer. Indien jou basiliekruid in die somer mooi staan sal jy net 'n ogie moet hou. Dit verlep gou en jy sal moet natspuit wanneer die blaartjies begin hang. Knyp die middelste stingel af sodat dit 'n mooi bos maak. Die plant hou ook langer indien jy gereeld blare pluk.
Ek is nie seker of aartappels wel sulke lang stingels moet maak nie? Ek het sommer aartappelmoere wat begin uitloop het in die spens, hier buite langs die hen-en-kuikens kom plant. 
Mag die son vandag oor jou skyn en jy vreugde vind in dié dinge om jou heen. 

13/12/2014

Douvoordag

Vanoggend, nog voor die son die aarde vuurwarm gebak het, het ek met my kamera 'n draai deur die tuin gaan loop. Alles was vars, fris en flatervry. My gemoed ook. Kom stap saam, gedeelde blydskap is mos altyd dubbele blydskap.

 Wit magrietjies by die fontein


 Rose blom baldadig

 Agapante blom vanjaar  oorvloedig

 Welkom! 

 Die baie reën van die afgelope tyd het die silwereik sy groen jas laat aantrek

 'n Kykie oor die voorste grasperk

 My gunstelinge groei oral, na hartelus! 

Ek loer deur die voorste venster na die duiwe. Hulle weet nie van my nie. Salig sit hulle en bad. Bad en spat en speel. 

 Op hierdie oomblik sou ek beslis nie omgee om 'n duif te kon wees nie. Die kraaie gaap op dié Saterdagmiddag. 






Tot volgende keer! 

21/11/2014

As iets groei !

Anderdag kuier 'n vriendin by my en vertel dat haar man "onsteld" was omdat 'n mielie tussen die blomme in die voortuin opgekom het. Hy wou dit uitpluk! Sy was so bly dat dit GROEI.

Nouja, ek is ook so bly as iets groei. Kom kyk gou hoe het my groentetuin gevorder sedert ek laas hier geblog het, man, dis mos lekker om LEWE te sien waar daar eens net niks was nie. En hier by my groei daar ook 'n mielie tussen die rose en 'n tamatie tussen die vetplante. Want groei is mooi en groei is goed.

                                  Wortels, basiliekruid (pers) en spinasie.

 Uie, beet, spinasie, basiliekruid. Ek het verneem dat lg. die goggas weghou van spinasieblare. Algaande leert men! 

 Wilde knoffel langs die kante keer ook insekte.

 Wortels! Kan nie wag om dit uit die aarde te trek as dit groot genoeg is nie. 

 Wat is 'n ete sonder tamaties? As mens tamaties het, het jy mos KOS! 

 Hier groei Afrikaners, dit begin al knoppies maak en sal seker een van die dae blom. Regs is peppadews. 

 Gesonde peppadews op pad na nuwe hoogtes! 

 Pietersielie maak enige slaai heerlik, fyn stukkies bo-op gestrooi laat 'n vleisgereg net smaakliker lyk!

 Son en reën en liefde laat tamaties groei! 

 Ons honde is al slim en loop nie sommer in die beddings nie! Ou Jacob se boontjies begin lustig teen die krom stokke oprank. 

'n Eksperiment! Eiervrug. Ek verneem mens kan heerlike geregte hiervan maak en dis boonop baie gesond! 
Tot volgende keer.... lekker tuinmaak!