26/06/2014

Kuns en ek

Ek kan my nie voorstel hoe my wêreld sonder kleur of kuns sou wees nie. In hierdie koue winter gee dit my warmte en groot plesier om daagliks my tyd te verwyl met dié dinge wat my so naby aan die hart lê!
 
 'n Dag in die veld....

 
Hier is 'n collage van al my jongste skilderye. Heerlik op Picasa gespeel om dié collage te maak!

22/06/2014

AFRIKAANS

Vandag nooi ek almal uit om te kom saamlees en saamspeel in SONDAGSIESTA, die maandelikse lekkerte waarin ons in AFRIKAANS, ons groeplede se foto's en kuns uitstal.

Gewoonlik word gedigte, verse en sêgoed van oraloor hier gedeel, maar vandeesmaand raak ons heerlik nostalgies en onthou al die gedigte en resitasies van ons kleintyd en ons jeugjare.

En diep binne weet ons dat ons ons mooi taal AFRIKAANS, soos goud moet oppas, want daar is sekere dinge wat jy net in Afrikaans kan sê.

 
 
Mag dié vuur in ons harte altyd bly brand!

31/05/2014

Kyk na die wilde voëls

Vroegoggend hoor ek hulle al. Altyd vrolik. Altyd bly. Somer en winter. Ons geveerde vriende is nie net 'n lus vir die oog nie, hulle is ook salwing vir enige gemoed. Ek maak die venster oop vanwaar ek kan uitkyk oor die tuin en veral die voëlbad. Vanoggend is hier heelwat kuiergaste. Elkeen mooi op sy eie manier. 
Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie...
~ Die Bybel
- Matteus 6:26

 Hierdie lyster luister mooi of hy nie iemand hoor aankom nie!
Lysters (Turdidae) is 'n familie van voëls wat aan die orde van sangvoëls (Passeriformes) behoort. Dit is 'n groot familie van middelgrootte voëls wat besonders goed kan sing. (Wikipedia)

 En is hulle sang nie pragtig nie, ek word nooit moeg om daarna te luister nie. 


 Kyk hoe lekker rustig drink hy water. Daar lê ook genoeg voëlsaad om van sy vriende nader te lok.


 'n Baie bekende en getroue besoeker is die tortelduif. Daar is iets poëties aan duiwe. Sag. Soos mooi musiek as mens moeg voel. 




Lekker kossies! 
 Die vinnigste klein voëltjies op aarde! Rats en baie beweeglik. Gelukkig weet hulle nie ek en my kamera is naby nie! Sulke perfekte mooi geskape goedjies. Ek verkyk my aan hulle. 
 Dié voëltjies  is 11 cm groot en weeg 11 gram. In Engels staan hulle bekend as die Cape White-eye



 Rek en strek om by te kom! 

 'n Bad op sy tyd is lekkerder as brood en konfyt! 

 Mossie moet ook mos kom kuier man! 

 En Mossie se vroutjie is ook altyd iewers in die nabyheid. 
 Hoera!! 'n Gelukskoot! Die baie skaars en skugter rooikophoutkapper kom sit vir net een oomblik op die rand van die waterbak tot my groot vreugde....'n duif vlieg nader en WEG is ou Rooikoppie! 
 Met sy sterk snawel kan die rooikophoutkapper nie alleen die vrugte 
waarvoor hy lief is, uitmekaar skeur nie, maar selfs ook neutjies 
kraak. Die houtkapper is lief vir wildevye en ander veldvrugte. Hulle dieet bestaan egter nie net uit vrugte nie, maar ook insekte soos kewers. Hulle is veral 
gek na vlieënde termiete. 
 Salig sit sy en saadjies pik, een vir een. 
 Kransduif met sy rooi brilletjie is ook 'n gereelde besoeker hier in ons tuin. Baie statig, al mors hulle wit blertse oral rond. Ek hou van hulle roep: ’n dreunende, diep ‘hooo-hooo-hooo’-geluid en hy maak ook ’n sagter ‘koekoekoekoe’- geluid. 

 Tortelduifie sit op 'n stomp in my tuin.
’n Kransduif kies net een maat vir die res van sy lewe, maar kan ’n ander een kies as sy lewensmaat te sterwe kom. In die broeiseisoen sal die mannetjie hoog in die lug opvlieg en dan in sirkels rondvlieg om die wyfie te beïndruk.

30/05/2014

Mooi prentjies is belangrik

In die tyd waarin ons lewe is dit lewensbelangrik om elke dag iets moois raak te sien en te geniet. Ons onlangse besoek aan die Kaap en veral Bloubergstrand teen sonsaktyd het gesorg vir heelwat sulke kosbare oomblikke. 
Goue aande met donker silhoeëtte op die strand afge-ets groei vir altyd vas teen my kunstenaarshart. Ek wil dit ewig onthou. Ek wil daarna kyk as die wêreld die dag kwyn soos 'n garsland wat doodgaansiekte het. Ek wil die warm kleure van sulke aande soos 'n toemaarkombers om my draai. En ek wil dit ook met jou wat hier lees, deel. 










Dis eers as mens kennis gemaak het met die lewe se donker kant, dat jy die mooi in die lewe anders bekyk en ernstig(er) opneem. My mooi herinneringe is vir altyd vasgevang in die prentjies hierbo. 

09/05/2014

Sommer net vir die lekker!

Ek was onlangs by Vlu-Noord se kongres waar ek van my kuns uitgestal en verkoop het. Dit was interessant om te sien waarvan die vrouens hou en waarin hulle belang stel. Ek het nog altyd (sommer net vir die lekker) en baie dikwels van my foto's of skilderye gekombineer met my verse. Net omdat ek dit geniet het! En ook omdat ek lief is daarvoor om iets kreatiefs te kan doen elke dag van my lewe hier op aarde. Ek het nooit regtig gedink iemand anders sou dit ook wou hê nie. Dit was dus vir my 'n heerlike aansporing toe ek agterkom dat mense toe nou BAIE van my woordprentjies hou!

Nou moet ek dink hoe ek gaan maak om dit te bemark. Op RedBubble kan 'n mens van my "Woord en Beeld"-kaartjies koop. Die kwaliteit is uitstekend en hoe meer 'n mens koop, hoe goedkoper word dit! Maar ek wil dit sommer tuis ook bemark. Wat dink julle? 'n Mooi gelamineerde kaartjie met 'n versie daarby behoort heelwat mense te verbly.




 




28/04/2014

My rose en ek

Vir jare sonder tal staan my wit icebergs al langs die paadjie hekkie toe. Tevrede. Tot onlangs. Skielik begin die blare vreeslik erg roes kry en val sommer af. Kaal, dun takkies gryp-gryp in die herfslug rond. Soekend. 
 

Voor ons huis staan 'n yslike groot akkerboom. Iewers vandaan val swart stof oor my rose se blare, taaierig. Ek wonder of dit die akkerboom is wat 'n siekte het. Of is dit net dié tyd van die jaar dat so-iets gebeur? Ek kan onthou dit het verlede jaar ook gebeur, maar voor ek kon bekommerd raak, was dit weg. Ek weet steeds nie wat dit is nie, maar kry my roosbome jammer. Die ander bome in die omtrek het ook almal groter geword en veroorsaak dat daar min son bedags op die rytjie roosbome val. En net daar neem ek 'n besluit. Hulle moet uit! Son toe. 


Dis Maandag, die hele wêreld en sy maat hou vakansie, maar my getroue ou Jacob het besluit hy gaan kom werk. Ek is so bly, want dis 'n fees om buite te wees!  Ons verplant een na die ander, maak plek tussen die reeds bestaande rose in die bedding naby die fontein. Heeldag skyn die son heerlik warm daar. Nie eers een van die roosbome wat daar groei, het 'n roeserige blaar aan nie. Dit moet net werk.  Ons maak die gate vooraf vol water, haal die bome versigtig en met moeite uit en plant hulle onmiddellik oor in die nuwe omgewing. Dit lyk sommer mooi! 

Nou het ek wit, pienk en wynrooi, oranje en bloedrooi rose, almal deurmekaar en bymekaar.  En langs die paadjie na die voorhekkie, lyk die wilde knoffel heel gesellig. Miskien maak ek later 'n ander plan daar, dis mos hoekom tuinmaak so lekker is, dis heeltyd speeltyd!