01/04/2014

Kosmos

O dis lekker om te lewe!! Vanoggend voel ek sommer net lus om koers te kies iewers heen en foto's te loop neem. Ek het gister doelbewus en doelgerig die ou Pretoriapad gevat om die kosmos wat dié tyd van die jaar blom, te gaan afneem. En toe met net vyf foto's teruggekom, net genoeg om vir nog meer lus te word.

Hemels! Wat 'n verrassing was hierdie foto nie! So skoon en suiwer. Lieflik is die wêreld in herfstyd.

  Sommer 'n hele plaat pienk en wit vreugdes bymekaar! 
 'n Grondpad draai links uit, die klip en die paal lê nommerpas langs mekaar. 

My oorlede Ma se gedig pas so mooi by hierdie foto.....

KOSMOS
Soos vlinders vrolik, fladderend
waai kosmos in die wind
langs paaie deur die vleie
en oor die bulte ver
wieg prettig, pienk en pers
die blommemassa fyn
soos kant en sy gespin -

in herfs blom kosmos oor ons land
Wie het die veld geploeg, geplant, 
Wie het dit daar gesaai?

Sy hand het dit geskape
Sy hand het dit formeer,
Ja in Sy grote Kosmos
Is Hy van alles Heer! 
(Maureen Grobler) 

Daarom ry ek toe vanoggend sommer 'n rigting in met die hoop dat ek nog meer plate en plate kosmos sal sien. Helaas! Daar was toe nie so baie nie, maar darem mooi genoeg om te geniet!
















KOSMOSVREUGDE 
Vroeg Maart verras 'n kosmos my
al wuiwend langs die pad. 
Die somer gaan te gou verby -
Hier groet die najaar my so bly!
Dou, skitterend, blinknat.

In Maartmaand kantel kleure bont
al waaiend in die wind;
met najaar dwaal gedagtes rond -
kom lê soet woorde in my mond;
'k het soveel vreug gevind.

Soos kosmoskleure pers en wit
al swaaiend om my heen, 
het stilte in my hart kom sit
'n vrede sag en kinderlik
soos najaars milde reën. 
(Maureen Grobler. 1920 -1993) 

15/03/2014

Kleur is orals

Nà die baie reën lyk die wêreld sommer anders. Kom stap saam met my deur die tuin! 


GROEN mos klou vas teen klippe en boomstamme. 


Ek kan my verkyk aan die lyne en patrone van die ornamentele gras by die voëls se waterbak.

Kuns in die natuur. 

 
Bloedrooi blom die gerberas. 
Oos wes, tuis bes!

12/03/2014

Daar's water!!

Sedert die 1e Maart 2014 reën en reën en reën dit aanmekaar hier in ons kontrei en in groot dele van ons lieflike land. By baie plekke is daar yslike oorstromings en baie skade en voel 'n mens jammer vir mense wat daardeur geraak word. Hoe klein is ons krag teen die mag van die natuur, ons is eintlik maar weerloos. Hier by ons het tot dusver 200mm. reën in twee weke geval. Dis BAIE!

Vir iemand wat lief is vir foto's neem, is daar skielik sommer baie meer kiek-geleenthede. Ek sien prentjies in my tuin, prentjies wat weer gaan verdwyn as die son volgende week dalk skyn.



Die ou gekraakte sementpaadjie(wat ek nie wil regmaak nie, dit gee mos karakter!)



'n Blinknat paadjie na die voorste hekkie toe.

Poele water oral.

Groen, groen, groen.

Die tuin floreer!!


Chris en Brakkies doen voorraadopname! 


Voor die klein hekkie lê 'n dam, 'n plas, 'n poel!


Hagar en Brakenjan wonder wanneer gaan die son weer skyn...


Druppels hang soos 'n kantgordyn van die dak af.

NAT!





Die wolke maak prentjies op die nat plaveisel, so mooi vir my!


"Kom speel tog nou bal!"

'n Hadeda, die enigste een wat hoog en droog alles bo uit die denneboom dophou.

Wolke vol wit beloftes van nog reën. 

Herfs se eerste tekens hang in geelgroen blare buite. 

Nat appelkoosboomblare by die agterdeur. 

Die peppadews is groen-gelukkig!

En die lugplant lag van blydskap!