21/12/2013

My kamera, my passie

Daar is min dinge op aarde so lekker vir my as om met my kamera te speel. En dis nie van gister af nie, dis lankal se lekkerkry dié!  Hier is 'n paar onlangse foto's geneem in my tuin. Ek hoop jy geniet dit net so baie soos ek! 


 Die pienk "Pride of India" is dié tyd van die jaar 'n lus vir die oog.


 'n Vetplant wat soveel vreugdes gee....net vir een dag. Elke keer.

 Kyk net hoe vol groen akkers is my boom. Ek put soveel genot daaruit om op te kyk na hierdie ou groot eikeboom wat net buite die erf staan en vir menige besoeker heerlike parkeerplek in sy skadu verskaf.


Op 17 Desember 2013 hang 'n volronde, vriendelike volmaan bokant ons huis.


Die wolke voor die maan sorg vir 'n onvergeetlike prentjie.  

13/12/2013

Met Jan Tuisbly se karretjie

Desembermaande tuis is heerlik rustig. Ek vroetel en karring. Ek maak skoon en gooi weg. Ek geniet dit om te doen wat my hand vind. Só ontdek ek toe vanoggend weer die blink blik met tee- en ander lepels wat ek van my Ma geërf het. Ek haal dit uit en besluit om dit mooi skoon te maak met Braso. Dit was ook omtrent hoogtyd. My hande raak swart, maar die lepels skitter lewensbly. 

Saam met die skoonmaak, onthou ek. Elke lepel het sy eie storie. Ek geniet dit.


 Hierdie lekker groot suikerlepel is in die Kruger Wildtuin gekoop. Hoe dikwels het ek nie as kind saam met my ouers soontoe gegaan nie. So baie kere daarna ook as grootmens. Nooit word mens mos moeg vir die reuk van die Wildtuin nie. Die atmosfeer wat daar is in die grasdakhutte, die heerlike kuiers saans om die vuur, die opwindende ritte bedags tussen kampe. Iewers wag daar altyd 'n verrassing. Die Wildtuin se bekoring bly by my, nes my lepel.


Met dié suikerlepel kan 'n mens sommer 'n lekker groot skep suiker in jou tee of koffie gooi. Die herinneringe is suikersoet.




 Hierdie suikerlepel is so oud soos die berge. Dalk ouer. Ek onthou ons het dit op die plaas gebruik toe ek vyf jaar oud was. Agterop staan: Stainless Chrome Plate, Sheffield. Ek het eers baie later leer koffie drink sonder suiker. Met hierdie lepel het ek suiker oor my mieliepap gestrooi voor skool soggens. Dan was ek reg vir die dag wat voorlê.



'n Laerskoollepel met die skool se leuse daarop: Streef en Stry. Laerskool Erasmus. Dit was lank voordat die skool se naam verander is na Laerskool Du Preez van Wyk. Cornelis Erasmus was die stigter van die dorp Bronkhorstspruit, wat vroeër die naam Erasmus gehad het. Hier is steeds 'n Erasmus Apteek en Hoërskool Erasmus. My oorlede Ma het jare by die Laerskool as sekretaresse gewerk. Vir my was dit so lekker om altyd te weet sy is naby.


'n Suikerlepel van Elandskrans. 'n Mooi plekkie naby  Waterval-Boven en Waterval-Onder. Dis hier waar ons besef het my Ma is nie meer sterk en gesond nie. Ek het daardie jaar saam met my Pa teen die klowe en steiltes uitgeklim en die natuurskoon geniet. Sy kon nie. Dit was voor ons geweet het sy het kanker. Sy het toe net altyd gou moeg geword. Hierdie lepel lê my na aan die hart. Ek sal my suiker stadig strooi as ek die lepel gebruik.


Margate. 'n Vakansie by die see. 'n Lieflike en kleinerige lepeltjie wat sekerlik net mooi herinneringe inhou. Vakansies was nooit langer as twee weke weg van die huis af nie, maar herinneringe bly vir altyd.


'n Lepel van Victoria Falls. Tweeduisend onthou-jy-nogs kom klouter oormekaar in my gedagtes. My Pa sou 'n plaas koop in die destydse Noord-Rhodesië. Naby Fort Jameson as ek reg onthou. Ons het met 'n vaal Vauxhall-karretjie die lang pad aangedurf. Ons het onder muskietnette geslaap, klip-klip gespeel saam met Engelse kinders, ons verkyk aan die massiewe kremetartbome.  En Ma het 'n lepel gekoop wat my al die mooi en opwindende dinge van dié vreemde vakansie vir altyd laat onthou.



Hierdie stel Hollandse lepels en vurkies is een van my heel kosbaarste besittings. Nie net omdat dit so uniek is nie, maar omdat elke lepel en vurkie met die grootste sorg en vakmanskap aanmekaar gesit is.

En dit was my Ma s'n.
Ek gebruik dit dikwels as ek 'n kuiergas spesiaal wil laat voel. Nooit vergeet hulle om te sê hoe mooi dit is nie.



Ek dink hierdie klein lepels, messe en vurke is vir my kleinsus gekoop. Ek kan nie onthou dat ek dit ooit gebruik het nie. Sy moes baie spesiaal gevoel het om haar eie stel eetgerei te kon gebruik.

06/12/2013

Regpak en wegpak

Daar hang 'n vakansie-atmosfeer oor alles dié tyd van die jaar. So lekker. Alles en almal is so half "afgeskakel" en sommer ook vriendeliker en meer toeganklik.

Soos altyd voor Kersfees het die groot regpak my weer beetgekry. Ek skrop die spensrakke skoon, maak leeg waar nodig, stof af. Ek sorteer ook al my baie skryfwerk wat oral op rakke ingepak is. Ek maak plek in die voorste kas vir wanneer die kinders kom kuier.

Dis heerlik, want so saam met die uitsoek en herrangskik van al hierdie bladsye en bladsye skryfwerk: rubrieke, gedigte, verse, rympies en wat nog, kom ek op ou vergete en mooi goed af.

Ek het nie 'n idee wie hierdie verse geskryf het nie, daar is geen naam by nie, maar ek deel dit graag:

Waarom is die reënboog krom?
 
Die pers van blomviooltjies,
die rooi op my ma se wang,
die groen van eikeblare
en die geel uit die son gevang
 
die blousel in die pou se stertveer,
die oranje van die oop gousblom,
die ligblou teen die berg met dagbreek,
hulle buig die reënboog krom.  
 
 
Oggendete
 
Die son kom vroe-vroe kuier,
hy kruip al nader aan ons huis.
Sy eerste warm strale skyn
tot in ons wit kombuis.
 
Die son klim in my papbord,
hy kom oor my melkglas loer,
'n sonstraal streep die tafel,
dan val hy op die vloer.
 

Herfs
 
Herfs is 'n papawer,
herfs is 'n oranje blaar,
herfs word 'n vuurvlam,
dan is winter daar.