02/07/2013

Tyd het vlerke

Ons hoor dit so baie: "Die tyd vlieg!" Gister is verby. Vanoggend herkou ek nog aan die stukkie tyd wat ek gister kon koester, die paar salige minute waarin ek my kon verlustig aan die mooi om my wat die natuur oophande en verniet vir my gegee het. Dié tyd wat met grys en geel vlerke my tuin in 'n inkleurboek kom verander het.  


Ek kyk na die abstrakte kuns van 'n hardekoolstomp wat ons staangemaak het langs die waterbak en waar die voëls van ons dorp in die winterson kan kom kuier en kwetter.
 


Skoon drinkwater....wag rustig in die winterson vir koerende kuiergaste
 


'n Kwikstertjie daag eerste op. Dis tyd vir 'n lekker oggendbad.  Hy wip heen en weer,  wikkel sy dun beentjies woerts-warts, woerts-warts op en af, vorentoe, agtertoe....'n prentjie van lewenslus. 'n Uitdaging vir enige fotograaf om 'n foto te kry wat darem naastenby in fokus is...
 


Ou vrugteliefhebber, Manie Muisvoël, kom hang ewe tuis aan die rand van die waterbak. Hy peusel en proe, trek gulsig stukkies lemoen met sy swart-en-wit snawel uit die skil en verslind dit vraatsig. Wat 'n lekkerte op aarde!
 

En toe die verrassing! 'n Allermooiste rooikophoutkapper land doodluiters. Hy betrag die wêreld grootoog.
 

Ek verwonder my aan sy dik snawel, die lieflike helderrooi "serpie en kopdoek", die uniekheid
van sy vrolike voorkoms.


"Kom vat 'n slukkie..." nooi ek hom uit vanwaar ek agter die gordyn in die voorkamer staan. En hy luister gehoorsaam.
 

Katrina Kransduif koe-koerdoek en kyk uit die hoogte na die vaal grasperk.  Sy wag vir warmer somersdae, sy weet dit kom elke dag nader. "Koekoerdoek, koe-koerdoek!"


Manie se maat, Mollie Muisvoël, kom sluit by hom aan. Hulle twee sit plat op hul alies en geniet die sappige lemoen. Die tuin is hul kuierplek, hul koskryplek, hul tuiste.
 
 


'n Rooiborsduifie is die volgende besoeker. Alhoewel duiwe in die tuin so deel is van my omgewing, bly hulle vir my pragtig. En rooiborsduiwe bly my gunsteling duiwe. So sag. So vriendelik.
 
 
 
 
 

 
'n Klein geel glasogie is 'n presentjie uit die hemel en pure plesier1!


 
 



'n Paar geelgroen vlerkies fladder en vlieg rats na die oorblyfsels van die lemoen....miskien het Manie en Mollie Muisvoël tog iets lekker laat oorbly, wie weet?

 
'n Tuin vol lewe is en bly een van die grootste vreugdes op aarde. Mag ons altyd oopoog deur ons tuine loop en God se Skeppingswerk waardeer. Dan sal ons ook vlerke hê om te kan vlieg waar Hy ons heen mag stuur.

29/06/2013

Kleinkinderkuns op 'n Saterdagoggend.

Die dag lê oop voor ons en wag....wat gaan ons drie daarmee maak?
"Ouma, ons het nog nie eers een keer geverf nie, Ouma werk net!!"  sug Isabella na haar vroegoggendkoffie-in-die-bed.
"Hmmmmm, dan moet ons 'n plan maak né!" sê ek en voel al klaar 'n heerlike kriewel van lekkerkry net by die gedagte om te kan verf.
 
Na ontbyt dra ons die verwarmer na die rondawel toe, pak die tafel vol koerantpapier, maak ons bekertjies vol water, kry die verf uit die kas asook lekker dik waterverfpapier om op te werk en daar begin die pret!! 

Na 'n rukkie lyk Isabella se kunswerk so mooi! Die hele doel van dié kastige kunsles is om dit te GENIET. Sy het so lekker met die verskillende kleure gespeel. Die konsentrasie was natuurlik vir my 'n heerlikheid om te aanskou.  

 

Hierdie een wen die eerste prys in "Ouma se uitstalling"....dink jy nie ook dit is allermoois nie?


Ek wonder wat alles in die verbeelding aangegaan het toe sy hier geskilder het....
Isabella reken dis "dromerige patrone".... Ouma se ou bokkie!

 
Hier is Reuben (6)  se skeppings: abstrakte kinderkuns op sy lekkerste! 
 
Ons hou baie van die mooi kleure!

Natuurlik woon die drie beertjies in hierdie ou mooi huisie. Gouelokkies is op pad, sy behoort teen elf uur hier te kom aanklop. 

 
En so tussendeur het ek (die Ouma) ook toe maar 'n eenvoudige kunswerk die lig laat sien. Laat my nogal dink aan Namibië se droë bome en uitgestrekte vlaktes. Ek wens so ons kan eendag die geleentheid hê om dié indrukwekkende land te kan besoek.....
 
 
En hierdie was sommer net vir die lekker!!

 
Miskien eendag ver vorentoe sal my kleinkinders 'n koue Saterdagoggend vol helder kleure onthou. Kleure wat ons almal se harte warmbly gemaak het!
 
Later die middag het ons klippe geverf wat hulle kan saamneem as presentjies
vir hul familie in Lydenburg.  Dit het ure geneem om klaar te kry, maar dis pragtig kleurvol en kan dalk vier harte bly maak!
 
 


26/06/2013

Blog jou!!

Ek het vandag heeldag probeer om 'n nuwe blog te maak om my kuns en foto's te bemark, ( lees VERKOOP) maar alles tevergeefs sê die Prediker mos....alles tevergeefs! Iewers op die internet was 'n gogga wat my gekeer het en ek kon net nie die "create a blog"-opdrag uitgevoer kry nie. Dis hoekom ek nou maar weer hier op SPEEL-SPEEL kom speel.

Ek het heelwat kuns wat te koop is. Maar ek woon nie in Pelgrimsrus of Dullstroom of iewers aan die Weskus waar kuns baie byval vind nie. O jaaaa, ek bemark my werk op RedBubble en ook op Paintings I love en ook op ons eie Suid-Afrikaanse kunswebblad South African Artists.com, maar kan 'n mens ooit genoeg bemarking doen?

Dis so bitter baie lekker as iemand uit die bloute laat weet hy/sy stel belang in dit of dat en kan ek/mag ek/wil ek/sal ek asb. vir hom/haar 'n groot /groter weergawe daarvan skilder..... ai, dis heerlik!! Ek neem ook graag foto's...prentjiesmaak is maar net in die gene! Wat 'n heerlikheid op aarde is dit nie.

Nouja, kom kyk wat is beskikbaar, hier is 'n paar voorbeelde....geniet dit!!
 
 
 
 
 

 
Al vier skilderye hierbo is ongeraam, beskikbaar. Prys: R890 Grootte: 35 x 43 cm.
 
 
Geraam en gemonteer: Te koop. Prys: R2100
 
 



 
 
 

27/04/2013

Brakenjan

Hy's slim. Hy's oulik. Hy kan "praat." Hy sê vir my wanneer hy in sy bedjie wil gaan lê, wanneer hy wil uitgaan, wanneer hy dors is, wanneer hy honger is. Ek verstaan sy taal.
 
 Hy hou van buite speel. Hy slaap lang stukke tussen-in. Dan groei hy. Hy eet sy blokkies stroopsoet elke dag. Hy speel lekker saam met ons yslike groot swart Labrador, Hagar.
 
 Hy is op die 10e Febuarie 2013 gebore. Hy is bruin. Sy ore is sag, sag, sag. Sy ogies blink. Sy naam is Brakenjan. Hy is my miniatuur worshondjie en ek is lief vir hom met my hele hart en nog 'n bietjie.
 
Hier is hy!
Reg vir die koue!

 
Sit en wag by die voordeur om uit te gaan...
 

 


Dis heerlik hier in droomland...
 
 
Lekker lui en rustig in die son...
 
 
Tande jeuk!
 
 
'n Heerlike lewe!
 
 
"My naam is Brakenjan!"
 
Ek dink nie meer aan hierdie hartseer dag nie, Brakenjan het my kom troos.