02/07/2013

Tyd het vlerke

Ons hoor dit so baie: "Die tyd vlieg!" Gister is verby. Vanoggend herkou ek nog aan die stukkie tyd wat ek gister kon koester, die paar salige minute waarin ek my kon verlustig aan die mooi om my wat die natuur oophande en verniet vir my gegee het. Dié tyd wat met grys en geel vlerke my tuin in 'n inkleurboek kom verander het.  


Ek kyk na die abstrakte kuns van 'n hardekoolstomp wat ons staangemaak het langs die waterbak en waar die voëls van ons dorp in die winterson kan kom kuier en kwetter.
 


Skoon drinkwater....wag rustig in die winterson vir koerende kuiergaste
 


'n Kwikstertjie daag eerste op. Dis tyd vir 'n lekker oggendbad.  Hy wip heen en weer,  wikkel sy dun beentjies woerts-warts, woerts-warts op en af, vorentoe, agtertoe....'n prentjie van lewenslus. 'n Uitdaging vir enige fotograaf om 'n foto te kry wat darem naastenby in fokus is...
 


Ou vrugteliefhebber, Manie Muisvoël, kom hang ewe tuis aan die rand van die waterbak. Hy peusel en proe, trek gulsig stukkies lemoen met sy swart-en-wit snawel uit die skil en verslind dit vraatsig. Wat 'n lekkerte op aarde!
 

En toe die verrassing! 'n Allermooiste rooikophoutkapper land doodluiters. Hy betrag die wêreld grootoog.
 

Ek verwonder my aan sy dik snawel, die lieflike helderrooi "serpie en kopdoek", die uniekheid
van sy vrolike voorkoms.


"Kom vat 'n slukkie..." nooi ek hom uit vanwaar ek agter die gordyn in die voorkamer staan. En hy luister gehoorsaam.
 

Katrina Kransduif koe-koerdoek en kyk uit die hoogte na die vaal grasperk.  Sy wag vir warmer somersdae, sy weet dit kom elke dag nader. "Koekoerdoek, koe-koerdoek!"


Manie se maat, Mollie Muisvoël, kom sluit by hom aan. Hulle twee sit plat op hul alies en geniet die sappige lemoen. Die tuin is hul kuierplek, hul koskryplek, hul tuiste.
 
 


'n Rooiborsduifie is die volgende besoeker. Alhoewel duiwe in die tuin so deel is van my omgewing, bly hulle vir my pragtig. En rooiborsduiwe bly my gunsteling duiwe. So sag. So vriendelik.
 
 
 
 
 

 
'n Klein geel glasogie is 'n presentjie uit die hemel en pure plesier1!


 
 



'n Paar geelgroen vlerkies fladder en vlieg rats na die oorblyfsels van die lemoen....miskien het Manie en Mollie Muisvoël tog iets lekker laat oorbly, wie weet?

 
'n Tuin vol lewe is en bly een van die grootste vreugdes op aarde. Mag ons altyd oopoog deur ons tuine loop en God se Skeppingswerk waardeer. Dan sal ons ook vlerke hê om te kan vlieg waar Hy ons heen mag stuur.

29/06/2013

Kleinkinderkuns op 'n Saterdagoggend.

Die dag lê oop voor ons en wag....wat gaan ons drie daarmee maak?
"Ouma, ons het nog nie eers een keer geverf nie, Ouma werk net!!"  sug Isabella na haar vroegoggendkoffie-in-die-bed.
"Hmmmmm, dan moet ons 'n plan maak né!" sê ek en voel al klaar 'n heerlike kriewel van lekkerkry net by die gedagte om te kan verf.
 
Na ontbyt dra ons die verwarmer na die rondawel toe, pak die tafel vol koerantpapier, maak ons bekertjies vol water, kry die verf uit die kas asook lekker dik waterverfpapier om op te werk en daar begin die pret!! 

Na 'n rukkie lyk Isabella se kunswerk so mooi! Die hele doel van dié kastige kunsles is om dit te GENIET. Sy het so lekker met die verskillende kleure gespeel. Die konsentrasie was natuurlik vir my 'n heerlikheid om te aanskou.  

 

Hierdie een wen die eerste prys in "Ouma se uitstalling"....dink jy nie ook dit is allermoois nie?


Ek wonder wat alles in die verbeelding aangegaan het toe sy hier geskilder het....
Isabella reken dis "dromerige patrone".... Ouma se ou bokkie!

 
Hier is Reuben (6)  se skeppings: abstrakte kinderkuns op sy lekkerste! 
 
Ons hou baie van die mooi kleure!

Natuurlik woon die drie beertjies in hierdie ou mooi huisie. Gouelokkies is op pad, sy behoort teen elf uur hier te kom aanklop. 

 
En so tussendeur het ek (die Ouma) ook toe maar 'n eenvoudige kunswerk die lig laat sien. Laat my nogal dink aan Namibië se droë bome en uitgestrekte vlaktes. Ek wens so ons kan eendag die geleentheid hê om dié indrukwekkende land te kan besoek.....
 
 
En hierdie was sommer net vir die lekker!!

 
Miskien eendag ver vorentoe sal my kleinkinders 'n koue Saterdagoggend vol helder kleure onthou. Kleure wat ons almal se harte warmbly gemaak het!
 
Later die middag het ons klippe geverf wat hulle kan saamneem as presentjies
vir hul familie in Lydenburg.  Dit het ure geneem om klaar te kry, maar dis pragtig kleurvol en kan dalk vier harte bly maak!
 
 


26/06/2013

Blog jou!!

Ek het vandag heeldag probeer om 'n nuwe blog te maak om my kuns en foto's te bemark, ( lees VERKOOP) maar alles tevergeefs sê die Prediker mos....alles tevergeefs! Iewers op die internet was 'n gogga wat my gekeer het en ek kon net nie die "create a blog"-opdrag uitgevoer kry nie. Dis hoekom ek nou maar weer hier op SPEEL-SPEEL kom speel.

Ek het heelwat kuns wat te koop is. Maar ek woon nie in Pelgrimsrus of Dullstroom of iewers aan die Weskus waar kuns baie byval vind nie. O jaaaa, ek bemark my werk op RedBubble en ook op Paintings I love en ook op ons eie Suid-Afrikaanse kunswebblad South African Artists.com, maar kan 'n mens ooit genoeg bemarking doen?

Dis so bitter baie lekker as iemand uit die bloute laat weet hy/sy stel belang in dit of dat en kan ek/mag ek/wil ek/sal ek asb. vir hom/haar 'n groot /groter weergawe daarvan skilder..... ai, dis heerlik!! Ek neem ook graag foto's...prentjiesmaak is maar net in die gene! Wat 'n heerlikheid op aarde is dit nie.

Nouja, kom kyk wat is beskikbaar, hier is 'n paar voorbeelde....geniet dit!!
 
 
 
 
 

 
Al vier skilderye hierbo is ongeraam, beskikbaar. Prys: R890 Grootte: 35 x 43 cm.
 
 
Geraam en gemonteer: Te koop. Prys: R2100
 
 



 
 
 

27/04/2013

Brakenjan

Hy's slim. Hy's oulik. Hy kan "praat." Hy sê vir my wanneer hy in sy bedjie wil gaan lê, wanneer hy wil uitgaan, wanneer hy dors is, wanneer hy honger is. Ek verstaan sy taal.
 
 Hy hou van buite speel. Hy slaap lang stukke tussen-in. Dan groei hy. Hy eet sy blokkies stroopsoet elke dag. Hy speel lekker saam met ons yslike groot swart Labrador, Hagar.
 
 Hy is op die 10e Febuarie 2013 gebore. Hy is bruin. Sy ore is sag, sag, sag. Sy ogies blink. Sy naam is Brakenjan. Hy is my miniatuur worshondjie en ek is lief vir hom met my hele hart en nog 'n bietjie.
 
Hier is hy!
Reg vir die koue!

 
Sit en wag by die voordeur om uit te gaan...
 

 


Dis heerlik hier in droomland...
 
 
Lekker lui en rustig in die son...
 
 
Tande jeuk!
 
 
'n Heerlike lewe!
 
 
"My naam is Brakenjan!"
 
Ek dink nie meer aan hierdie hartseer dag nie, Brakenjan het my kom troos.
 
 

23/04/2013

Ek onthou...


Ek was al lankal lus vir 'n kleinerige hondjie in die huis. Een om te vertroetel. Hagar is wonderlik, maar hy is groot en sterk en die waghond. En Hagar bly buite. Dis anders.

En toe kry ek een! 'n Worshondjie, opreg en agt weke oud met 'n sagte bruin velletjie en die mooiste ou ogies op aarde. Ek doop hom Tjoklit.
 


Dit reën en reën buite en ek maak vir hom 'n bedjie in 'n kartonboks, draai hom toe in my bruin winterserp. Siestog, hy is so klein. Isabella kuier by Ouma dié naweek en ons twee geniet die nuwe klein inwoner so !
 
 

Toe die son vir die eerste maal na 'n lang tyd weer skyn, gaan speel ons bietjie buite!
 
 


Is dit nie salig nie...die plaveisel is heerlik warm en die herfsblare warrel rond...hy strek sy klein lyfie heerlik uit en geniet elke sonstraal terdeë.
 
 

Hagar hou alles fyn dop, die liefde en geduld vanself. Ook hy geniet die louwarm sonstrale van hierdie laatherfsdag. 
 
Maandagoggend ry ek om 'n ordentlike bedjie en kombers vir my Tjoklit te gaan koop. By die Koöperasie kry ek die perfekte een. Hy ry natuurlik saam... hoe dan nou anders? By die Troeteldierwinkel koop ek vir hom 'n rooi-en-blou truitjie, die kleinste een wat daar is. Sy ou velletjie is so dun en die winter lê voor. Hy lyk te oulik daarmee!
 

 
 
Ns. Ek het hierdie blog-inskrywing gedoen voordat die ongeluk gebeur het. Lees op Speel-Speel:

 
Ek sal hom nooit vergeet nie.

22/04/2013

My hondjie


 
Vier bruin pootjies trippeltrap
oor die plankvloer
al agter my aan, al agter my aan
twee bruin ogies
blink bly as hy ‘n liefdevolle vryfie kry
 
en toe: die ongeluk!
 

hoe het dit so gou gebeur
as ek maar kon, sou ek dit keer
maar nou is hy nie meer
 
Hy was maar net drie dae by my. Die heelmooiste ou klein bruin worshondjie onder die goeie son. Hy was so oulik. Bruin soos goeie sjokolade. Ek doop hom toe maar Tjoklit. Dit was tog die heel eerste gedagte wat by my opgekom het toe ek hom die eerste maal ontmoet het op Donkerhoek waar ek hom gaan haal het. ‘n Heerlike bruin blokkie tjoklit!
 
Hy het soet in sy bedjie geslaap in die nag, die enkele twee nagte wat hy hier by ons in ons ou huis met die plankvloere kom bly het.  Net een keer wakker geword en saggies gekla, toe vryf ek sy koppie en hy slaap verder. 

Soggens het ek hom vroeg uitgeneem buitetoe om sy plassie te maak. Dan het hy eers nuuskierig aan allerhande goetertjies gesnuffel:  herfsblare wat rondwarrel in die wind, ‘n stukkie stokkie, ‘n klip. Gelek-lek aan die water in die voëls se bak wat hier naby die voordeur staan. En dan sy eerste plas gemaak….een hele lang nag se piepie. Daarna het ek hom opgetel, styf toegewikkel in my serp en hom teen my gehou en op my skoot laat lê om warm te word. So lekker warm het hy aan die slaap geraak en het ek hom saggies in sy bedjie gesit om in hondedroomland te gaan kuier. Tevrede en gelukkig was ons bymekaar. Ek voor die rekenaar en hy langs my.

Vanoggend het ek hom saamgeneem toe ek die VLU se bestelvorms moes gaan oplaai. Hy het soet in sy boksbed in die kar gelê en alles bekyk. Ek was ook by die veearts om uit te vind wanneer hy ontwurm moet word en het sommer daar ook na ‘n lekker sagte hondebed gesoek. Daar was ‘n hele paar op die rak, maar ek wou by die troeteldierwinkel ook maar nog gaan kyk. By Louis se winkel aangekom, wys ek eers my ou mooi hondjie en ek vertel hom van alles. Ons gesels honde uit bosse uit. Hy verkoop aan my ‘n hondetrui, die kleinste een in die winkel. Ons trek dit vir Tjoklit aan. Hy lyk so oulik.

Toe ry ek Koöperasie toe, vra vir ‘n hondebed. Hulle gaan soek in die stoor en kom met ‘n mooi donkerbloue na vore. Ek koop ook ‘n sagte kombers, nogal met wit hondespore op. Hy hou baie daarvan en lê sommer dadelik doodtevrede en insluimer op sy nuwe bed.

Ek gaan gee die vorms in by Meisie en ons twee drink tee, hy slaap die hele tyd terwyl ons kuier, stroopsoet. Voor ek ry, wil ek hom eers ‘n draaitjie laat loop, maar die vreemde erf se hondjies ontsenu hom en hy vergeet skoon sy natuurlike behoeftes. Ons ry toe maar, tevrede lê hy in sy bed op die sitplek langs my. Dis beter as in die boks doer onder. Dis nader.

Tuisgekom, laat ek hom eers met ou Hagar, ons swart Labrador wat so liefdevol en geduldig is, speel. Hagar verdra alles en snuffel-snuffel aan Tjoklit. Dit lyk te kostelik: die groot swart hond en die baie klein ou bruinetjie so langs mekaar. “Hierdie kleintjie hy sal Hagar wakker hou!” reken Jacob, wat in die tuin werk.

Toe dit etenstyd is, draf hy rond in die kombuis, snuffel-snuffel. Ek staan op om hom buitetoe te vat. Ek maak die onderdeur oop en sit hom neer, hy glip weer binnetoe. Toe ek omdraai, gly my voet en my enkel kry effens seer. Ek trap skeef…..ek trap op hom. Hy lê en rek sy ou kleine lyfie. “Chris! Ek het my hondjie seergemaak!” Chris kom kyk. Tjoklit bly net daar lê. Sy lyfie begin slap word. Ek tel hom op, sien bloed by sy bekkie uitkom. “Kan ons hom nog Dr. toe vat?” vra ek hopeloos, verskrik. Te laat. Sy hele lyfie is slap en sy ogies verstar. Dood. Ek kan dit nie glo nie. So vinnig. ‘n Ongeluk, ek weet. Te vinnig. Ek kan nie eet nie. Ek maak die lewelose bondeltjie toe in die agterstoep se bruin matjie.

Jacob maak ‘n gat langs die anaboom. My hondjie is dood. Ek het hom doodgetrap. Ek voel verskriklik. Toe huil ek, ek snik. Chris sit sy hand op my skouer. “Dis ‘n ongeluk gewees”, sê hy. Ek weet. Ek wil nie weet nie. Ons begrawe vir Tjoklit. “Nkosi yami’” sê ou Jacob toe ek die klein dooie dingetjie neerlê op koerantpapier in die grond. Hy maak die graffie toe, sit ‘n ronde klip bo-op.

Toe hy ‘n uur later huistoe ry en ek sy geld vir hom gee, huil ek nog steeds. “Jou hart moet sak Oumies….” sê hy troosvol. My hart is flenters. Hy was maar net ‘n ou hondjie.
 
In liefdevolle herinnering.
22 April 2013.
 
 Die blog-inskrywing wat ek 'n paar minute voor sy dood gemaak het, kan jy hier lees:

 

 

 

 

18/04/2013

Lig en donker

Ons dae is nie een dieselfde nie. Party dae gly ons sonder stampe en stote deur die lewe. Ander dae voel dit asof die bulte en die hoogtes darem net 'n bietjies te steil is. Tog is daar so baie mooi om ons om ons te inspireer en te kalmeer.
Ek put altyd so baie vreugde uit dit wat die natuur bied! Kom stap saam met my en geniet dit....en mag jou dag vandag ook geseënd en vol vreugdes wees.

 
 
 
 
 
 
In elkeen van hierdie foto's speel lig en donker 'n rol. Saam maak dit ....
die hele lewe.