26/07/2012

Geveerde vriende

Dis altyd so lekker om hulle dop te hou: duiwe, mossies, muisvoëls...hulle almal geniet die waterbak in die tuin. Die muisvoëls is taamlik baasspelerig en verjaag die glasogies of mossies as hulle ook 'n proeseltjie lemoen wil kom vat.


Muisvoëls is egter in talle opsigte enig in hul soort. Hul pote is baie veelsydig, met omswaaibare buitenste tone, sodat hulle met gemak op takke kan sit, onderstebo kan hang, teen boomstamme op en oor takke kan klouter, en op die grond kan loop. Hul vere wat meeste van die liggaam bedek, het kort penne met lang, sagte uitgroeisels, wat aan hulle 'n sagte tekstuur en pelsagtige voorkoms gee (dit lyk amper soos 'n muis se hare!) Die snawel, swart bo en wit onder,  is kort en stewig, met 'n geslote verhemelte, anders as dié van hul naaste verwante, en die kop het 'n kuif.

Kyk hoe lekker vreet hulle aan die lemoen, nes twee honger koshuisbrakkies wat Ma se koekblik oor 'n naweek nadertrek!



Muisvoëls is, ten spyte van hul vaal vere, baie opsigtelik vanweë hul kenmerkende gedrag. Hulle lyk soos muise waar hulle in bome rondkruip. Muisvoëls lê hul eiers in neste van takkies. 

Jy kan meer lees oor muisvoëls op hierdie blad: Muisvoëls 


Rustig sit die ou mossietjie en wag op die stomp, hy weet sy beurt sal netnou kom!


Tortelduif het sopas 'n heerlike paar slukkies water gedrink. Haar stertvere hang sommer nog in die bad.
Kom lees hier meer oor dié pragtige tortelduif


en sy groter maatjie, die kransduif

Beide van hulle is permanente inwoners hier by ons huis. Hulle gee kleur en klank aan ons lewe met hul "koer-koer" roep wat heeldag soos agtergrondmusiek in ons ore klink.





08/07/2012

Winter

My tone tien is ys-verkluim
so ook my vingers en my duim
ek dra my wolpantoffels nou:
dit sal die koue buite hou!

My serp is warm om my nek
my hande ook met wol bedek
Ek blaas 'n asem yskoud-stoom
terwyl ek oor die somer droom!


Elizabeth Kendall ©

Sondagmôre

Die oggendson
skyn deur my venster
en gooi 'n ligstreep
op my kas.
My kat spring op die vensterbank
en groei mooi in die prentjie vas!

27/06/2012

Wie weet waar Martie en Martin kuier?


Martie Muisvoël is vanoggend baie bly. Sy het sopas 'n wonderlike ontdekking gedoen. Tussen die kaal takke van haar geliefkoosde kuierboom naby die waterbak, lê daar 'n sappige stukkie appel en wag. Hoe heerlik! Sy is juis so honger. Gedurende die koue winter is kos maar skaars. Sy wil net begin kou aan die appel, toe gewaar sy uit die hoek van haar oog 'n grysvaal MUIS. Sy vlieg vinnig weg en gaan sit hartseer op 'n tak nie te ver van die appel af nie. Wat gaan nou gebeur?


Martin Muis laat nie op hom wag nie. Sy lang stertjie krul teen die droë takke af. Hy klou met sy klein pootjies styf vas aan die stuk saligheid wat hier voor hom lê.
"Knibbel, knibbel, knibbel, knibbel!" werk sy klein tandjies om die stukkies appel lekker fyn te kou.


"Is dit nou tog nie te heerlik nie! " fluister hy ingenome met homself. Dié winter is baie koud en kos is maar skaars.


Karel Kransduif en Letitia Lagduif sit en loer van die waterbak se kant af.
"Martin, skaam jou! Jy dink net aan jouself! Gaan jy nou die hele appel alleen opeet?" vra Karel met sy kwaai stem vir Martin Muis.


"Ag Karel, jy het nie 'n idee hoe vreeslik honger ek is nie!" sê Martin met 'n hartseer stemmetjie.
Van iewers vandaan hoor hy Martie se sagte gefluit. Hy besluit om maar grootharig te wees soos dit 'n goeie muis betaam. Martin wip ewe vriendelik weg van die sappige appel sodat Martie tog nou maar ook weer 'n happie kan vat.


"Ooo, dankie, dankie Martin, jy het die mooiste maniere! 'n Man wat vir 'n dame ook 'n kans gee om iets lekkers te geniet, is 'n man so na my hart. Ek weet dis seker maar omdat ons dalkies verlangs familie van mekaar is, né! " sê Martie so tussen die happies appel deur.


"Nou sien ek sommer kans vir hierdie wintersdag! " fluit Martie Muisvoël toe sy op die stomp gaan sit. Haar hartjie voel bly en gelukkig.  Toe Martin Muis sien Martie is nou meer as tevrede, gaan vat hy gou nog één laaste hap....net vir die lekker!


Foto's  en storie: Elizabeth Kendall ©


 




20/06/2012

'n Duiwestorietjie vir dogtertjies en seuntjies van alle ouderdomme.


Smiddae so skuins na drie is dit kuiertyd by die waterbak in die voortuin. Karel Kransduif, Katrina, sy vrou en Letitia Lagduif sit aldrie ewe gesellig en bad. Hulle vat kort-kort 'n slukkie yskoue water en sit vreedsaam en wonder oor die winter.


"Weet jy wat?" koer Karel.
"Nee, verrrtel myyyy? " antwoord Katrina.
"Ek geniet nogal dié tuinkombuis hier by Krugerstraat!" koer Karel.
"Ek oook, ek ooook!" roep Letitia Lagduif doer van agter af en sluk ewe fyntjies aan die koue water.
 "Hier is altyd water en baie maal iets om aan te pik!"

"Jy sal my nou moet verskoon, Letitia! " koer Katrina, "Karel is reeds weg, hy is seker al op die stoepdak waar ons nes is...koekoerrrdoek, koekoeerdoek!"
En weg vlieg Katrina....


Letitia Lagduif sit alleen en droom, sy moet ook maar aanstaltes begin maak om by haar stokkiesnes in die eikeboom uit te kom. Daar lê twee spierwit eiertjies en wag om uitgebroei te word. Dis so heerlik vreedsaam hier in die tuin. Net die regte plek vir 'n vredesduifie soos sy!


"Koekoerrdoek!"



17/06/2012

Dis mos nou lekker!

Van l.n.r.: Isabella, Reuben, Joshua en Amy. Hier het hulle "skool gespeel" en die outydse skoolbank in die voorportaal is mos ideaal vir dié doel!

As my kleinmense kom kuier, dan maak ons tyd vir verf! En hulle wéét al! Skaars geland, dan sal Reuben vra: "Ouma, wanneer gaan ons ve..e..e..rf ?"
Ek geniet dit vreeslik om hulle dop te hou terwyl hulle besig is. Soms knip en plak ons, ander kere "skilder" ons, partymaal mors ons, baie kere gesels ons meer as wat ons enige-iets anders doen....maar in elke kuiertjie van kleinkinders hier by Krugerstraat is daar 'n gróót stuk genot van iets lekkers saamdoen.

'n Trein! Altyd 'n trein....dan is Reuben in die sewende hemel!


Joshua se mooiste bome
"Tjoeke tjoeke paf !" ry Reuben se trein oor vlaktes wit papier!
En partymaal droom ons drome en wens ons wense!
'n Lekker vet skapie! Isabella s'n!
Amy se boomskildery.....almal kan sien sy het dit so baie geniet!

Baie maal sit ons net sommer in die tuin en gesels of luister na die voëltjies....of speel wegkruipertjie!


Hagar, Oupa en Ouma se swart Labrador, is natuurlik altyd deel van die spelery! Kyk hoe lekker oopbek lag hy!


15/06/2012

Vier hartkamers vol!

Amy en Joshua, sy in Gr. 6 en twaalf jaar oud. Hy in Gr. 2 en sewe jaar oud.
Isabella en Reuben. Sy in Graad 3 en 8 jaar oud. Hy in Gr. R en vyf jaar oud.

Vanoggend dink ek aan my vier kleinkinders, twee dogtertjies en twee seuntjies. Jy kan dit nie beter wil hê nie! Stilletjies word hulle groot. Ek sien hulle nie elke dag nie, maar ek bid vir hulle......elke dag.

Amy, die oudste van die vier, is al 'n regte grootnooi. Sy kry 'n beurt om een maal elke week 'n hele ete te maak in hul huis. En sy doen dit met groot opgewondenheid en blydskap. Sy hou baie daarvan! En as almal na ete hul lippe aflek en vra vir nog, is Oumasekind in die sewende hemel.

Joshua is 'n regte seunskind, lief vir balskop en karretjies en Ouma se beskuitblik. Op dié stadium ook baie hartseer om te moet ry as hulle 'n slag hier gekuier het. Kleinkinders is glo net lief vir 'n mens tot hulle tien jaar oud is, het 'n wyse ouma my eendag vertel. Ek glo dit nie.

Isabella is 'n patroon. Sy wil konserte hou en dans en sing. Dogtertjiegoed is mos lekker goed. Die haasbekkie het "grootmenstande" begin kry. As ons mekaar sien, is ons altwee so bly!

Reuben is die enetjie wat na "sy Ouma trek".  'n Foto van my waar ek in Gr. Een was, lyk baie na dié klein rakker. Vol lewe is hy. Die wêreld is 'n wonderlike plek en hy is daagliks op 'n vrolike ontdekkingsreis.

In my hart is daar vier kamers: elkeen van my kleinkinders beset 'n kamer.....vir altyd. So lank as wat ons spore mag trap op Moederaarde, so lank bly julle Ouma lief vir haar kleinkinders, een vir een en elkeen afsonderlik.


12/06/2012

Mpho loop weg (slot)

Mpho sien 'n bos.
Hy wil slaap.
Hy gaan lê onder die bos.
Die kuiken is in sy sak.

Mpho kry koud.
Die kuiken piep hard.
Hy kry ook koud.


Mpho wil huis toe gaan.
Sy huis is ver.
Mpho huil.
Die kuiken piep.

Mpho streel die kuiken.
"Kom ons gaan huis toe," sê hy.
Die kuiken piep nie meer nie.


Pa en Ma is bly om Mpho te sien.
Die hen is ook bly om die kuiken te sien.

"Jy is myne!" sê Mpho vir die kuiken.
"Piep!" sê die kuiken.
Mpho lag.

Elizabeth Kendall ©

08/06/2012

Hierdie Ouma speel karretjies.

Joshua
Reuben


In die voorste kamer op twee van die rakke staan dit uitgestal. Regte grênd karretjies van allerhande kleure en vorms: bloues, groenes, bloedrooies, geles, swartes ( hulle is nogal in die minderheid, snaaks genoeg) en selfs ‘n bruinetjie of twee.

Hierdie Ouma het ook kleinseuntjies: ‘n rooikop en ‘n witkop en ‘n valetjie. Die voorste kamer trek hulle soos ‘n magneet. Vanselfsprekend.

Reuben, die jongste, kon nog nie eers praat nie, toe het hy al goed geweet watter wonderlike bekoring daardie kamer inhou vir ‘n mannetjieskind. Dan het hy, sodra hy hier geland het, met die vingertjie soontoe beduie en het Ouma vir hom ‘n karretjie van sy keuse gaan afhaal om mee te speel.
Marco, ‘n bietjie ouer en baie bekkig, stap doelgerig op die kamer af en sê grootman: “Ek wil met daai een speel en daai een en daai een!”

Joshua, die oudste, vra met sy mooiste stem en op sy unieke manier: “Oumaaaa, kan ek met die karretjies speel?”
En dan gaan kies hy wat hy wil. Hartjie in die wolke.


Aldrie weet dis Ouma se karretjies. Aldrie weet hierdie karretjies moet mooi opgepas word. Aldrie weet mens skop nie die karretjies agter elke Pick & Pay of speelgoedwinkel se rakke uit nie. Ouma het dié karretjies versamel. Dis duur karretjies. Mens moenie rof en wild en simpel met hulle speel nie, mens moet ook nie probeer om die hel uit hulle uit te ry nie. Dis soort van heilige karretjies. Net seuntjies wat baie spesiaal en baie ordentlik is, mag met hierdie karre speel. As Ouma jou met haar karretjies laat speel, moet jy weet jy is soort van in die hemel en Ouma het jou bitter lief. Liewer as haar karretjies.






"Collect the vehicles & celebrate the brands of yesteryear” staan op elke karretjie se bypassende boek geskryf. Dis “Days Gone By” se “Classic Trucks & Vans” van nommer een tot by nommer sewe-en-twintig. Ek het jare gelede elke maand een gekoop in die dae toe ek nog ‘n salaris verdien het. Sommer vir die lekker. Sommer oor dit mooi is. Dit bekoor my. Dit fassineer my. Dit vat my op ver paaie. Miskien omdat ek as kind ‘n Ouboet gehad het en saam met hom karretjies gespeel het. Miskien omdat ek steeds ‘n stukkie kind in my Oumalyf laat wegkruipertjie speel. Dis my karretjies.
Maandag ry Josh-hulle terug huistoe. Oupa gee hom ‘n present: ‘n Olifant van klip wat ons êrens tydens ‘n vakansie langs die pad gekoop het. Hy straal. Dis syne. Van Oupa af. Syne alleen. Hy voel so belangrik. Hy het tog ‘n swart klip-olifant wat in sy kamer in Lydenburg kan gaan staan waar al sy maatjies dit kan sien. Hy vryf liefderyk met sy vyfjaaroue hande oor die olifant se klipvel, bewonder sy wit tande, hol na sy ma toe om dit opgewonde vir haar te wys.
Ek dink en wonder. Wat kan ek vir Joshie gee, ek kan tog nie nou winkels toe jaag nie. Wat maak ek tog met al die karretjies in die voorste kamer?

 “Joshie, kom hier! “ Ek vertel hom dat hy nou slim en groot is, die oudste van al Ouma se seuntjies. Hy mag vandag een karretjie plus die bypassende boek  kies om saam te vat huistoe.


Joshua se gesiggie blom. Die wêreld word die mooiste plek. Buite koer drie duiwe gelyk. Sy oë vlieg van rak na rak. Links en regs, weer regs, weer links.Op en af. Heen en weer. “Daai een!” Hy kies ‘n swart Morris Van van “W & G Foyle booksellers”-faam. Ouma se kind gaan dalk eendag boeke skryf en verkoop, wie sal weet.

Sy oë blink. Sy beker loop oor en spoel in ‘n groot glimlag oor sy seuntjiegesig. Hy hol na sy ma toe: “Kyk Mamma, kyk wat gee Ouma vir my!”

My dag is gemaak. Ek wonder watter kleinseun kom kuier volgende keer. ‘n Mens kan tog nie “yesteryear”-karretjies eendag saamvat hemel toe nie.


Marco


07/06/2012

Haasbek


Hier waar my voorste tandjies was
is nou 'n groot, oop plek
dit voel omtrent so wyd
soos Pa se motorhek!

Ek druk my tong daardeur
en wikkel ook my ore -
die meisies in ons klas sê:
"Hy is seker so gebore!"

Wat hulle nou nog gladnie weet
is dat ek oor 'n jaar of tien
die mooiste glimlag uit gaan pak -
dìt sal hul self nog sien!

Hul beentjies sal so bewe,
hul hartjies sal so klop...
en ek sal stilweg glimlag -
Ou Tandmuis is gefop!


Elizabeth Kendall ©

05/06/2012

Slim kinders skryf sinne






Dit was in daardie jare die grootste bevrediging om so teen die einde van die tweede kwartaal te begin sien hoe die Graad Eens al ouliker word met sinne skryf. 

Dit was lekker om te weet  jy het dit vir hulle geleer! Aan die begin van die jaar kon hulle nog niks doen nie en kyk dan nou! Die humor wat daarmee saamgegaan het, was miskien die lekkerste deel. Hul spelling was gewoonlik baie foneties: 

Ons was Sansiti toe en my pa het gedobil

Ek eet apil koos konfyt op my broot

Toe daar honger sloot in die land was….

Dit was baj lekker by die see

Meneer Kreer is ons hoof

Ons skryv skriv

Ek gaan ‘n steviekaat kry vir djoedou

My juffrou draa boetse en sy jelp as ek ‘n vout maak

My pa maak kast hy dra swaar goet

My ma het spesiehaal hys toe gekom om iets op die tiewie te kyk

Ek eet graag soeper sie

My pa en ma pikly oor die bou ‘n ry aan ons stranthys

My ma word kwaad vir my pa as hy jultuit sport kyk

Mamma bêre haar lipstif en paravien in haar handsak

Ons bly in Jammelpak (Riamarpark)

Die pen is haarne, ek het nie sulke pen nie

Ek gaan ‘n in geneer word dan teekin ek vir die bouers plani

Ek wil in ‘n dibilverdieping huis bly met ‘n borilbat en ‘n waterbet

Elizabeth Kendall©


03/06/2012

Boepenaalkie



Wil jy graag weet waar kom ek vandaan?
Diep onder uit die see
Of anderkant die maan…
Het ek gery op n groen seeperdjie se rug
of  aan sterretjies geswaai doer bo in die lug?
 Met klippies en skulpies op wit seesand gespeel
of ‘n stukkie geel kaas met Maanman gedeel?
 Met dolfyne op golwe se deinings gery
of teen die reënboog se kleur afgegly?
Ek is Boepenaalkie en ek kom by jou speel
om met jou my lekkerkry  versies te deel.

Kyk rondom jou…
 Kiepiekraai het ek die son sien uitloer
almal het skielik gespring en geroer
 Goggas en wurmpies het vir kossies geskarrel
wild het die windjie met blare gedwarrel
 Blommetjies bont in so baie kleure
almal is anders met die heerlikste geure
Vrolik het voëltjies hul liedjies gesing
en sag sagste donsies vir nessies gebring
 Ek is Boepenaalkie en my hartjie is bly
want met my versies gaan ons baie lekkerkry!


Sleepvoetjiemoeg…
 Die son gaan al slapies
dis die einde van die dag
ek val sleepvoetjiemoeg in boepenessie so sag
my hartjie is vol van die heeldag se mooi
huistoe gehuppel met sononderrooi
 reënwater wat in modderdammetjies blink
en swaeltjies wat vir oulaas rinkink
 met mammaduif se koer koer doek koer
het sekelmaantjie oor die rantjie geloer
Ek is Boepenaalkie ek wens ek kon sing
maar nou skryf ek versies wat glimlaggies bring!
 
Elizabeth Kendall en Antionette Frieda du Bruyn ©


02/06/2012

A wish


May you have a jolly day:
A singing, dancing holiday!
Catch a sunbeam, catch a star..
You must skip and shout:
Hurrah!
May the birds then sing to you
peace and joy and lots of laughter -
days of spring forever after.


Philip de Vos