29/05/2012

Treinry


Silwerblink lê die spore
van my yslik' grote trein
en ek allenig is die drywer
al dink hul ek's nog klein

Ek trek die enjin volstoom oop
hoe vinnig kan my trein dan loop?
Die wiele dreun
ek hoor die fluit...
my pad loop teen die hoogste bulte uit
en af, af in 'n diepe kloof
wie my nie hoor nie, is mos doof

Dan maak ek nog 'n laaste draai
en kom eers tuis nà hanekraai!


Elizabeth Kendall ©

Mpho loop weg- Deel Een

Mpho loop weg.
Mpho sit.

Hy kyk na die deur.

Die deur is toe.

Mpho maak die deur oop.

Hy gaan uit.

Mpho speel buite.

Hy sien 'n bal.

Dis 'n rooi bal.

Die rooi bal lê op die gras.

Wie loop daar?

Dit is Nomsa.

Sy is 'n dogter.

Mpho en Nomsa speel

Hulle speel met die bal.

Leesboek- Elizabeth Kendall ©
(word vervolg)







Jy



Pluk vir my 'n blom
as jy weer hierlangs kom
want dan kan ek dit vir jou sê -
dis JY wat ek wil hê!



Elizabeth Kendall ©

Lente



Ek wil sing en spring en juig
tot waar die hoogste bome buig
want lente is mos in die lug..
Winter het sleepvoet weggevlug!

Elizabeth Kendall ©

My kat

Sy spring deur die venster
"kadoef" op my mat,
sy skuur teen my bene,
my liefste ou kat...

Ons loop in die gang af
om kos te gaan haal-
ek is so vet
en sy is so skraal

Haar dankie kom sê sy
so sag by my oor:
'n "prrr-prrr" wat niemand,
net ekke kan hoor.

Elizabeth Kendall ©

Soggens vroeg

Ek hoor 'n duifie in my tuin
hy koer sy versie fyn
en sing sy sagte duiwe-lied
vol vreugde en verdriet

Ek spring met blydskap
uit my bed -
dit was 'n vredesduif...
ek wed!



Elizabeth Kendall ©

'n Seunskind


Mamparras is mos altyd bang
van kleintyd tot hul groot is -
hul beentjies bewe mos vir als
totdat hul eendag dood is.

Maar ek's 'n dapper ramkat
die sterkste in ons klas!
Ek groei skoon uit my klere
my broek wil nie meer pas.

Ek bou 'n boomhuis buite,
ek slyp my jagtersmes -
vakansietye skiet ek
sonder om te kwes...

En as dit netnou aand word
moet ek alweer gaan bad:
dan kies ek sommer
maklik die lekker hasepad!


Elizabeth Kendall ©

As ek eendag groot is



As ek eendag groot is
wil ek 'n sterk man hê,
ene wat nes my pappa
'n mondvol dinge sê!

 
As ek eendag groot is
wil ek 'n mamma wees -
Ek wil sewe kinders grootmaak
en vir hul stories lees!

As ek eendag groot is
wil ek ver, ver weg gaan reis
na vreemde lande kyk
en eet van hulle vleis!

Maar nou is ek nog klein
en sit nog in Graad Een:
'n regte stoute snipsnater
en 'n parrabeen!

Elizabeth Kendall ©