Showing posts with label hen-en-kuikens. Show all posts
Showing posts with label hen-en-kuikens. Show all posts

06/02/2014

Tuinpraatjies.

Toe ek vanoggend baie vroeg wakker word, het dit gereën. Ek was onmiddellik bly, sommer baie.  Toe ek teen elf uur tuin toe wandel nà ek al my werk binne klaar gedoen het, raak ek totaal opgewonde. Die rede vir my handvol klein vreugdes sal jy waarskynlik in elkeen van hierdie foto's kan raaklees. 

 'n Babaduif sit tjoepstil skaars twee treë van my af. Sy ou veertjies duifsag. Weerloos en wonderlik.

 Ek kan nie wag dat my vetplant (ek dink dis 'n tipe Stapelia) gaan blom nie. Kyk net hoe vol beloftes sit dit daar aan die punt van die dunnerige groen stammetjie.  Ek het nie 'n idee watter kleur die blom gaan wees nie, lyk asof dit pienk of pers is.  Dis ook baie groot in vergelyking met die plant.

 Nog 'n paar gelukkige plantjies!

 Verskillende teksture: Pride of India boomstam en garingplante langs mekaar.

 Abstrakte KUNS in die natuur! Inspirerend.

 Dit lyk kompleet asof iemand met groen vetkryt die boomstam probeer inkleur het. Moeder Hen-en-haar- kuikens floreer in die semi-skadu onder die silwereik.

 Pennyroyal groei langs die huis. 'n Krui wat baie doeltreffend en op baie maniere gebruik kan word. Die reuk daarvan is heerlik! Dit kan gebruik word om muskiete weg te hou,  om kieme dood te maak en ook vir die behandeling van velprobleme. Dit help ook om vlooie van honde of katte weg te hou. In kos kan dit as geurmiddel gebruik word. Dit kan  ook 'n verfrissende geurmiddel in parfuum en seep wees.
Het jy al kaalvoet oor pennyroyal gestap? Probeer gerus.

 'n Mossie kom sit en droom op die rondawel se grasdak. Een van die heelmooiste voëltjies in my tuin en altyd gelukkig. Wat sou die wêreld tog wees sonder mossies?

 Woestynrosies groei oral in die tuin, hierdie een "blom" van gesondheid.

 'n Rukkie terug het my niggie vir my peppadews gebring. Ek het die saad gesaai en kyk net! Een van die dae gaan ek olywe sny saam met songedroogde tamaties en peppadews en dit in 'n slaai of roereier mengsel gebruik, njammies!!

Kos met kruisement daarby is mos koningskos. Kruisement verkwik enige mens se siel.  Kruisement aard in ligte skaduwee, maar dit hou van ’n paar uur sonskyn per dag. Myne groei salig onder die perskeboom in die agterplaas. 
Toe ek weer binnetoe kom, voel ek SKATRYK.