28/08/2015

Die lente bring nuwe vreugdes!


Elke seisoen het sy eie kleur, sy eie vreugdes, sy eie geur! 'n Oggend in die tuin is 'n voorreg. Een van die min plesierige dinge wat nie noodwendig geld kos nie. Met 'n dankbare hart en gewillige hande kan mens ver kom. En naby aan jou Skepper. 
Soms moet mens ook net die bekende dinge om jou uit 'n ander hoek bekyk om dit weer splinternuut te kan ervaar. 

'n Lyster kom les sy dors. Lysters behoort aan die sangvoël-familie. Dit is 'n daaglikse vreugde om na hul vrolike liedjies te luister.  
 Die eerste perskebloeisels van 'n nuwe seisoen. 
Gooi jou arms in die wind en haal diep asem. Geniet die oomblik! 
 'n Broodboom wat aandag en liefde gekry het en in 'n pot oorgeplant is met beenmeel, kompos en goeie grond. Die meeste broodbome aard goed in houers en 'n mens moet nou maar net geduldig wees.  
 Die anaboom se stam. Om onder hierdie groot boom te kan staan, is 'n belewenis. Om tussen sy dik takke deur te loer na die suurlemoenboom doer agter, is 'n lekkerte.  
 Wyfie suikerbekkie, mooiste klein voëltjie! Nie so kleurvol soos haar mannetjie nie, maar tog uniek. 
 Roosmaryn se blou blommetjies. Roosmaryn is maklik om te kweek. Elke tuin moet ten minste een roosmarynstruik hê. Wat is lekkerder en mooier as 'n gebraaide skaapribbetjie met 'n takkie roosmaryn daarby? 

 'n Vetplantjie blom. Die fyn wit blommetjie groei gelukkig langs die woeste dorings van die kaktus. 

2 comments:

  1. Oooeee, lief daai Roosmaryn van jou Liz! Ek het nie een op die oomblik nie, definitief op my lys vir plant in die komende weke!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie!! Ja, dis 'n wonderlike plant, hou so daarvan om met my vingers die blare te vryf en die heerlike geur daarvan te ruik. Dankie vir die stilstaan hier Maree.

      Delete