03/08/2013

'n Oggend in die tuin

Dis nog ver van somer af, maar bedags skyn die winterson heerlik louwarm op die kaal takke en bruin blare. Toe ou Jacob Donderdag weer hier krap en daar vee, besluit ek terstond: vandag is die dag!

Ek roep hom na die voortuin waar ons in geen jare aandag gegee het aan die voorkoms van die tuin om die voëls se waterbak nie. "Jacob, kom ons maak 'n nuwe tuin hier vandag!" sê ek opgewonde en entoesiasties. Hy is dadelik net so opgewonde soos sy "Oumies" en begin die grond losmaak waar tientalle van my mooi klippe begrawe lê. Ons grawe hulle almal uit.

Ons rangskik die groter klippe op 'n ander manier, snoei lang en slordige takke weg, maak oop en skoon, gaan haal die pot met die groot vetplant in die agterplaas en stal dit uit op 'n kaal kol in die voortuin, daar waar almal dit kan sien. Na 'n rukkie  se werk in die skraal sonstrale, lyk alles sommer net beter.

 
 
Om te dink, al hierdie klippe het onder die grond weggekruip!
 
 
Daar waar die kaal kolle is, sal ek later helderkleurige blommetjies plant. Net eers kraalmis inwerk sodat dit 'n ordentlike wegspringplek  kan hê. Ek kan al klaar sien hoe vrolik dit gaan lyk.
 
 
Die woestynrosies in die pot sal ook in die somer meer word, ek is seker daarvan.
 

Botterblomme wat steeds warm-oranje blom maak my hart so bly en laat my sommer minder koud kry.
 
 

Die Botterblom (Gazania krebsiana) - ook bekend as die Bruingousblom- is 'n meerjarige blomplant wat blom in die lente en somer. Hoe gelukkig is ek nie om tot in die winter nog hul sonskynkleure te kon geniet nie! Die plant is 'n vinnige groeier en dra madeliefieblomme aan lang stele wat net in sonskyn oopgaan. Die blomme kom in baie kleure voor.
 
Geel madeliefies.
 Kleur is maar 'n skaars artikel dié tyd van die jaar, daarom verlustig ek my in dit wat daar wel is.
 
 
Pienk en groen.


'n Enkele Afrikaner staan trots en glimlag agter die klip!
 

En bo, aan die dunste tak van die ou karee, werskaf geelvink om die nes gereed te kry.
 

Tortelduif wag geduldig, nes ek......een van die dae kan ons weer regtig tuinmaak!! Vandag was net 'n lusmakertjie.
 

2 comments:

  1. Dis verbasend hoe gou die tuin onnet kan raak sonder dat mens dit agterkom. En daai spoelklippe wat onder die grond verdwyn is een van my "pet hates"! Eintlik is dit net makliker om aanhoudend nuwes te koop en bo-op te gooi! Dis wat ek sal doen as daar nie 'n Chrissie was nie! Smaail!

    ReplyDelete
    Replies
    1. O jaaa!! My sak sal dit net nie hou nie!! Dankie vir die inloer hier Maree!

      Delete