03/06/2012

Boepenaalkie



Wil jy graag weet waar kom ek vandaan?
Diep onder uit die see
Of anderkant die maan…
Het ek gery op n groen seeperdjie se rug
of  aan sterretjies geswaai doer bo in die lug?
 Met klippies en skulpies op wit seesand gespeel
of ‘n stukkie geel kaas met Maanman gedeel?
 Met dolfyne op golwe se deinings gery
of teen die reënboog se kleur afgegly?
Ek is Boepenaalkie en ek kom by jou speel
om met jou my lekkerkry  versies te deel.

Kyk rondom jou…
 Kiepiekraai het ek die son sien uitloer
almal het skielik gespring en geroer
 Goggas en wurmpies het vir kossies geskarrel
wild het die windjie met blare gedwarrel
 Blommetjies bont in so baie kleure
almal is anders met die heerlikste geure
Vrolik het voëltjies hul liedjies gesing
en sag sagste donsies vir nessies gebring
 Ek is Boepenaalkie en my hartjie is bly
want met my versies gaan ons baie lekkerkry!


Sleepvoetjiemoeg…
 Die son gaan al slapies
dis die einde van die dag
ek val sleepvoetjiemoeg in boepenessie so sag
my hartjie is vol van die heeldag se mooi
huistoe gehuppel met sononderrooi
 reënwater wat in modderdammetjies blink
en swaeltjies wat vir oulaas rinkink
 met mammaduif se koer koer doek koer
het sekelmaantjie oor die rantjie geloer
Ek is Boepenaalkie ek wens ek kon sing
maar nou skryf ek versies wat glimlaggies bring!
 
Elizabeth Kendall en Antionette Frieda du Bruyn ©


4 comments:

  1. Mooi om uiteindelik die woorde en die illustrasies so saam te sien Elizabeth! Veels geluk met 'n pragtige samewerkingspoging!

    ReplyDelete
  2. Dis so lekker om dit so bymekaar te sien Elizabeth, dankie vir die blootstelling! Moet regtig tyd maak om nog n paar te doen.....

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie vir die inloer hier Antionette! Waardeer baie. Ons hoop meer mense geniet dit!

      Delete